wetzoeker

P. M. 55/61. Notawisseling tussen de Nederlandse en de Zuid-Afrikaanse Regering houdende een overeenkomst ter voorlopige regeling van handels- en scheepvaartbetrekkingen tussen het Koninkrijk der Nederlanden en de Unie van Zuid-Afrika

DEPARTEMENT VAN BUITENLANDSE SAKE,

KAAPSTAD.

20 Februarie 1935.

Meneer die Minister,

Ek het die eer die ontvangs te erken van u nota gedateer hede en u mee te deel, dat Sy Majesteit se regering in die Unie van Suid-Afrika bewillig in die voorstel van die regering van Hare Majesteit die Koningin van die Nederlande om, in afwagting van die totstandkoming van 'n definitiewe handels- en skeepvaartverdrag tussen die Unie van Suid-Afrika en die Koninkryk van die Nederlande, 'n ooreenkoms te sluit ter voorlopige reëling van die handels- en skeepvaartbetrekkings tussen ons twee lande. Te dien einde het ek die eer u mee te deel, dat Sy Majesteit se regering in die Unie bereid is ten aansien van alles wat handel en skeepvaart betref, met inbegrip van alle regte, belastings of heffings in verband daarmee, asmede ten aansien van die devieseverkeer, ten opsigte van die Koninkryk van die Nederlande die behandeling op voet van onvoorwaardelike meesbegunstiging toe te pas, met die verstande dat:

(a) die Koninkryk van die Nederlande geen aanspraak sal kan maak op die voorregte of gunste, wat voortvloei uit die voorkeursbehandeling, wat die Unie van Suid-Afrika reeds toegestaan het of in die toekoms mog toestaan aan een van die lede van die Britse Gemenebes van Nasies, solank as sodanige voorkeursbehandeling beperk bly tot lede van bedoelde Gemenebes;

(b) op die in hierdie ooreenkoms vasgelegde meesbegunstiging geen beroep gedoen zal kan word nie ter verkryging van:

(I) gunste verleen aan grensgebiede en grenslande weëns besondere politieke of ekonomiese verhoudings;

(II) voordele voortvloeiende uit tweesydige of meersydige verdrae of eensydige maatreëls wat ten doel het om dubbele belasting te vermy;

(c) die uitoefening van die kusvaart in Nederlands-Indië van hierdie ooreenkoms uitgesonder word en uitsluitend beheers bly deur die wette en verordenings in genoemde gebied;

(d) die in hierdie ooreenkoms vasgestelde meesbegunstiging geen beletsel sal vorm teen die verlening van gunste spesiaal aan skepe wat onder kontrak seepos vervoer;

(e) aan die in hierdie ooreenkoms vasgestelde meesbegunstiging ten aansien van die instelling van spesiale in- en uitvoerverbode en beperkings voldaan sal wees, wanneer sodanige maatreëls ook op die lande van toepassing is ten opsigte van welke gelykegronde vir die toepasing van hierdie maatreëls geld.

Hierdie ooreenkoms, wat ook van toepassing is op die Mandaatgebied Suidwes-Afrika, tree in werking op die eerste dag van April, 1935, en sal in elke geval van krag bly gedurende een jaar na hierdie dag, na verloop van welke tyd dit opsegbaar sal wees deur een van die partye met inagneming van 'n opseggingstermyn van drie maande.

Geliewe, Meneer die Minister, die versekering te aanvaar van my besondere hoogagting,

J. M. B. HERTZOG.

Die Buitengewone Gesant en Gevolmagtigde

Minister van die Nederlande

KAAPSTAD.

Regeling
Notawisseling tussen de Nederlandse en de Zuid-Afrikaanse Regering houdende een overeenkomst ter voorlopige regeling van handels- en scheepvaartbetrekkingen tussen het Koninkrijk der Nederlanden en de Unie van Zuid-Afrika
Soort
Verdrag
Geldend vanaf
01-04-1935
BWB-id
BWBV0005957
Versie
1935-04-01_0

In de hele regeling · Officiële tekst op wetten.overheid.nl